Welkom by die webtuiste van PLAAK Onder die afdeling kontak ons kan besonderhede verkry word waar om ons musiek te koop
Artikel uit Die Burger deur Mariana Malan
Plaak gewis nie met die mond vol tande
mariana malan
OUDTSHOORN. – Plaak is meer as net ’n sensasie op jou tande. Dis ook een van ’n handjievol nuwe kontemporêre musiekgroepe wat op die twee groot verhoë op die KKNK se Musiekplaas gehoor kan word.
Sowel op die Huisgenoot-verhoog as in die Klipdrift-vertoonkas tree vanjaar hoofsaaklik bekende en gevestigde kunstenaars op. Die meeste het ook al albums gemaak.
’n Uitsondering is Plaak, wat eintlik ’n trio is. Dié groep het sowat agt maande gelede eers ernstig begin musiek maak en sowat twee maande gelede vir die eerste keer werklik saam geoefen.
Hul agtergrond is so interessant soos hul verhoogname.
Die name wat hulle gekies het, is Molaar (Marius), Insi Sevus (Andrew) en Tandsteen (Lodewyk).
As dit niemand nog agterdogtig gemaak het nie, sal die verklaring dat twee van hulle tandartse is, dalk alles duidelik maak. Andrew en Marius werk die afgelope vier jaar in Engeland as tandartse, en Lodewyk is ’n werknemer van Telkom in Bellville. Eersgenoemde twee is swaers.
Die twee kitaarspelers het mekaar in Engeland leer ken toe hulle by dieselfde plek begin werk het. Andrew het ’n kitaar uit ’n asblik gered, en so het Marius agtergekom dat hy in musiek belangstel.
“Wie wil nou die res van jou lewe tande boor?” vra Marius. “Ons groot ideaal is om musiek te maak. Verkieslik Afrikaanse musiek in Suid-Afrika. Daar is niemand wat regtig uit vrye wil in die buiteland werk nie. Ons wil graag terugkom, ’n toer onderneem, ’n album maak en sommer net die hele dag musiek maak.”
Hulle sing ’n interessante mengsel van rock met ’n Keltiese inslag. Hul musiek is lewendig en vermaaklik. Die lirieke lewer sosiale kommentaar op so ’n manier dat mense graag daarna sal luister. Andrew skryf die lirieke en hy en Marius die musiek.
Hul optrede op die verhoog is energiek en interessant. Dis veral Lodewyk se heupswaaie wat die skare rasend maak.
Plaak weet waarskynlik nie hoe waagmoedig hulle eintlik is nie. Met geen ondervinding van ’n openbare verhoog nie, met splinternuwe en totaal onbekende musiek ding hulle daagliks met kunstenaars soos Nicholis Louw, Kurt Darren, Robbie Wessels, Gian Groen, Wynand Strydom en Pieter Smith om aandag mee.
Dis vir hulle ’n wonderlike ondervinding om in die Klipdrif-vertoonkas op te tree, al is dit om 17:00 in die middag (tradisioneel ’n effens stiller tyd in die tente). Hulle laat hulle glad nie deur die snikhete omstandighede afskrik nie – veral inaggenome dat twee van hulle uit ’n Europese winter hier aangekom het.
Hulle het net 20 kopieë van hul demoalbum, Naroverture, saamgebring. As jy gelukkig is, kan jy een in die hande kry om oor ’n jaar of wat te kan spog dat jy van hierdie groep se vroegste werk besit.